3 Planne om speel-speel waardering vir die Skepping by ons kinders te kweek

3 Planne om speel-speel waardering vir die Skepping by ons kinders te kweek

Deel van ons roeping is om vir God se skepping te sorg. Ouers en opvoeders kan reeds op ‘n vroeë ouderdom bewondering vir die natuur wek, bewuswording kweek en ‘n eko-sensitiewe manier van dink en leef vestig.

George Washington Carver het gesê: “Reading about nature is fine, but if a person walks in the woods and listens carefully, he can learn more than what is in books, for they speak with the voice of God.”

Psalm 19 sê dat die Here homself op twee wyses aan ons openbaar: deur die algemene openbaring (die skepping) en die spesifieke openbaring (die Bybel). Iemand praat van “die groot Boek” (die skepping) en “die klein Boek” (die Bybel).

He is wisest who reads both the world-book and the Word-book as two volumes of the same work, and feels concerning them, ‘My Father wrote them both’

Charles Spurgeon

Ons het albei die openbarings nodig om die Here te ken. Daarom het ons as gelowiges, as kerk, as ouers en opvoeders ’n verantwoordelikheid en ’n roeping om die skepping te versorg, te bewaar en ‘n liefde vir die skepping by ons kinders te kweek.

1. Wek bewondering

Om iets te wil bewaar, moet daar eers bewondering wees. Om Ekologie-sensitief te lewe moet mense weer aan die wonder en uniekheid van die skepping voorgestel word, die Groot Boek as ’t ware weer vir hulle oopgemaak word. Die ideaal is om hierdie bewondering, of liewer verwondering, reeds vroeg-vroeg by ons kinders te wek. Daarvoor moet ouers egter agter die glasgordyne van hulle huise en motors uitbeweeg en die kleingoed op ‘n ontdekkingstog vat om die skepping te sien, hoor, ruik en proe. Eers as ons as gesin weer op die skepping “verlief” geraak het, sal die bewaring daarvan vir ons belangrik word.

A sense of awe is the beginning of wisdom.

Abraham Heschel

Buitelug Gesinsaktiwiteit | God se Medeskeppers

Maak ‘n uitstappie daarvan om saam met die kinders na die tuin of ‘n park te stap en vertel hulle dat God elke blaartjie en besie geskep het. Laat hulle los blaartjies en takkies optel om hulle eie plat-op-die-grond prentjie te skep.

Die pretaktiwiteit kan deel vorm van die kind se ontdekkingstog van God se grootheid en versorging. Volg dit op met gesinsgesprekke en Bybel stories oor hoe alles wat God geskape het goed is.

2. Skep Bewustheid

Een van die grootste take van ’n eko-lewensstyl is om mekaar herhaaldelik aan ons verbruikersmentaliteit te herinner en wat dit aan die aarde en die skepping doen.

Ons droom is om eko-huishoudings, eko-gemeentes en ‘n eko-samelewing te skep. Om reeds van kleins af ons kinders sensitief te maak vir ons impak op die skepping, en hoe elkeen met ’n paar eenvoudige veranderings God se algemene openbaring kan versorg, is ‘n wenresep.

Buitelug Gesinsaktiwiteit | God se Natuurbewaarders

Neem die kleingoed na ‘n park, veld of selfs die tuin. Vat twee medium groote vullissakke saam en laat die kinders besluit watter los items kom in die “God het dit gemaak” sak en watter hoort in die “Die mens het dit gestooi” sak.

So speel-speel begin die kinders bewus word van wat die mens met God se skepping aanvang. Volg dit op met gesinsgesprekke en Bybel stories oor hoe God die mens as rentmeesters / versorgers van Sy skepping aangestel het.

3. Vestig ‘n Nuwe Normaal

’n Eko-lewensstyl verg nie net die wek van bewondering en die skep van bewustheid nie – dit moet ons ook uitdaag om iets te doen. Om anders te begin dink. Om anders te begin leef. Om krities te kyk na hoe ek en my gesin met hulpbronne omgaan en hoe groot ons CO2-voetspoor is. Daar is baie gesinne wat suksesvol nuwe maniere ontgin om ‘n verskil te maak. Hierdie is ‘n pretprojek vir 2021 om gesinne tot aksie aan te spoor.

Pretprojek 2021

Meer van God se Oorvloed | Minder Goeters

Daag jou gesin uit om in 2021 julle eie pretprojek aan te pak. Die idee is om biddend te besin oor hoe ons as gesinne as medeskeppers in God se skepping leef. Ons daag jul gesin uit om nader aan God te beweeg in 2021 en verder van te veel goed. Minder is mos meer as dit by die skepping kom.

Ontlok idees van die kinders oor hoe die gesin toekomsgerig kan beplan om saam nuut oor ons rol in die skepping te dink. Wat is julle gesin se groendruk vir die toekoms?

Ons begin binnekort gesinne se groendrukke hier plaas!

SAAMGESTEL MET INSPIRASIE VAN FAY VAN EEDEN SE: SO WERK GEMEENTELIKE ‘GROEN-BEDIENING’

0 Kommentaar

Lewer Kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui